BONUS MAGAZINE AUTUMN 2025
Bekend soos die bont hond: Storti-voermengers toonhul staal Die gesegde lui dat ou honde nie nuwe truuks kan leer nie, maar die Italiaanse voermengervervaar- diger Storti, met sy unieke hondename vir sy produkte, is reeds sedert 1956 besig om deurlopend nuwe tegnologie en innoverende produkte na die veevoerbedryf te bring. Storti se reeks van voermengers word plaaslik deur NMI (’n filiaal van CNH) versprei en Daniel Dames, besigheidsbestuurder van NMI, sê daar is ’n voermenger geskik vir elke boer se behoeftes. “NMI versprei ’n wye verskeidenheid van produkte, vanaf die Storti Husky MT50, MT70, MT120, en MT160; die Boxer MT150; die Dunker 80 en 240; asook die Dogo 22,” vertel Dames. Die Husky, Boxer, en Dogo is horisontale voermengers, terwyl die Dunker-voermengers vertikale voermengers is. Die Husky-reeks, wat oor ‘n kapasiteit vanaf 5 m 3 tot 16 m 3 beskik, word standaard as horisontale voermenger bemark, maar die vertikale weergawe kan ook per bestelling beskikbaar gestel word. “Die voermengers kan volgens die boer se behoefte bestel word, maar is standaard toegerus met drie weegselle en kan met baie verskillende voermengsels geprogrammeer word, met verskeie bestanddele per mengsel. Die bestanddele word volgens die voerresep in die menger gelaai, waarna daar na die volgende bestanddeel oorgeskuif word wat sodoende vermorsing uitskakel. Die gebruikersvriendelike skerm, wat direk van die trekker af koppel, is op die menger gemonteer, sodat die operateur die presiese hoeveelhede van elke bestanddeel kan monitor, terwyl daar gemeng word,” verduidelik hy. Uitlaai-opsies is daar ’n verskeidenheid van, met Storti-voermengers wat regs direk kan voer en aan die linkerkant kan versak, of ’n weergawe wat slegs na regs uitlaai. Die Husky-voermengers is toegerus met drie horisontale awegare – een onder die menger en twee bo in die voermenger – terwyl die uitlaaigedeelte oor ’n PVC-band, eerder as die tradisionele staalband, beskik om ’n langer werksleeftyd, meer bekostigbaarheid, en stiller werking te bewerkstellig. “Die afstand tussen die vervangbare snylemme op die awegare is ook verminder om meer sny-aksie te bewerkstellig en afhangende van die tipe voer wat gemeng word, kan die Husky-reeks ’n vol menger binne vyf tot vyftien minute lewer,” sê Diaan Wessels, produkspesialis by Case IH. Van die mengers beskik oor een of twee awegare wat tydens die mengaksie materiaal van buite na binne trek, dit in die middel meng en dan weer oorgooi na die intrek van die awegaar af om ’n doeltreffende mengaksie te bewerkstellig. Op die groter mengers is ’n bykomende awegaar bo aangebring om die materiaal weer terug te voer vir ’n sirkelvormige mengaksie. “Die Storti Dogo-voermenger is op sy beurt weer toegerus met ’n swaardiensratkas wat op ’n 540-spoed kragaftakker werk en ’n duursame, doeltreffende voermenger tot gevolg het. Onderhoud op hierdie voermengers is ook eenvoudig met daaglikse ghries van die laers en inspeksie van die kettingspanning en ratkasolie.” Die Boxer MT150 is ’n horisontale voermenger met ’n 15 m 3 kapasiteit. “Die voermenger kan beide heel vierkantige en ronde bale verwerk en beskik oor ’n swaardiensratkas met ’n goeie ratverhouding wat ’n kleiner trekkerperdekrag vereis as wat normaalweg met ’n soortgelyke voermengerkapasiteit die geval sou wees,” verduidelik Diaan. Een van die Storti-reeks se sterkpunte is die gemak van onderhoud waaroor die voermengers beskik. “Indien ’n onderdeel, soos ’n weegsel, onklaar raak, is dit maklik om die fout te bepaal, en om onderdele te vervang is ook nie veel moeite nie. Foutopsporing vind deur die skerm plaas, wat ’n foutkode weergee, met die eienaarshandleiding wat verduidelik wat die foutkodes beteken en waar die kwessie op die voermenger geleë is,” sê Diaan. Daniel vertel dat die Storti-voermengers se doeltreffendheid tydens Nampo 2024 bespreek is. “’n Produsent het na ons gekom en gevra of NMI die verspreiders van die Storti-reeks in Suid-Afrika is. Nadat ons dit beaam het, het hy ons bedank en vertel hoe ’n groot verskil dié voermengerreeks in sy boerdery gemaak het. Dis hierdie tipe interaksie met ons kliënte wat ’n mens se hart warm maak; die besef dat NMI ’n gehalteproduk, wat homself op die plaas bewys, aan ons produsente kan verskaf.” www.agribonus.co.za Autumn 2025 BONUS 43
Made with FlippingBook
RkJQdWJsaXNoZXIy MTY4NjQ=