BONUS MAGAZINE AUTUMN 2025
Staatmakerdisse vir enige grondbewerkingstoepassing Die Baldan-reeks disse wat deur NMI versprei word, het oor meer as twee dekades sy vasstrapplek in die plaaslike landbou gevestig. Met ’n voortreflike reeks disse uit die bekende Brasiliaanse vervaardiger, Baldan, se stal, bly NMI op die voorpunt van grondbewerkingstoerusting en oor die laaste twee dekades het die implemente uit hierdie vervaardiger se fabriek sy staal regoor suidelike Afrika bewys. “Die Baldan is bekend as ’n swaardiensdis en is by uitstek geskik vir plaaslike toestande. Hy het homself al deur en deur bewys as ’n implement wat kilogramme per skottel na die plaas toe bring, ideaal vir die produsent wat op soek is na doeltreffende bewerking en materiaal wat egalig in die grond ingesny word teen ’n sakpasprys,” sê André Olwagen, hoof van taktiese bemarking by Case IH en NMI. Een van die dis se sterkpunte is die eenvoudige ontwerp, met die bekende ghries of oliebad- Baldan-laers wat die skywe vashou en wat min onderhoud benodig. Dit is egter die doeltreffende verplasing van gewig tot grond, oftewel die kilogramme per skottel, waar die Baldan homself onderskei. “Dit is sekerlik die een maatstaf waaraan ’n dis gemeet word en afhangende van die grondtoestande, vereis die Baldan vanaf 4,5 kW tot 7 kW per skottel,” sê André. ’n Reeks disse vir elke toepassing Baldan se reeks disse is geskik vir enige grondbewerkingsaksie, vanaf die ligdiens CRSG 18- tot 24-skottelreeks met skottelgroottes van tot 26 duim en ’n deursnee van 6 mm, wat die disreeks makliker maak om deur die grond te sleep. “Wanneer dit by swaardiensdisse kom, is die CRI-reeks op hierdie stadium die mees populêre Baldan-dis en is beskikbaar vanaf 24-skottels tot 44. Die 24- en 28-skotteldisse beskik oor 26 duim-skottels, terwyl die 32- en 44-skotteldisse, skottels van 28 duim en ’n deursnee van 7,5 mm gebruik.” Indien ’n produsent ’n swaardiens, hoëkapasiteit dis benodig, bied die Baldan GCRTIS ’n dis met 62 of 70 skottels van 28 duim en 7,5 mm, wat nie net oesreste fyn sny en inwerk nie, maar ook die onbewerkte hektare per dag grootliks kan verminder. Laastens is die grootste disse wat plaaslik beskikbaar is, die Baldan GDOB-S disse met 78 en 90 skottels wat normaalweg deur trekkers soos die Steiger-reeks gesleep word, geskik is vir groter hektare, en wat die tydfaktor van hektare per dag ernstig opneem. Die spasiëring van een skottel na die volgende beloop 235 mm op die CRSG-disse, terwyl die res oor ’n spasiëring van 270 mm beskik. “Uit die aard van die saak is daar nog groter disse beskikbaar, tot en met ’n 108-skotteldis, maar dis nie so algemeen hier in gebruik nie,” vertel André. Graanboere vra al hoe meer vir groter disse Een van die nuwe ontwikkelinge is die groter gebruik van die Baldan GSPCR-14, ’n 14-skotteldis toegerus met 36 duim-skottels wat 12 mm dik is. “Die GSPCR kan ook met van 10 tot 22 skottels toegerus word, maar die GSPCR-14 is die dis wat ons sien wat die beste by die Magnum-reeks van Case IH-trekkers pas,” verduidelik André. Die groter omtrek van die skottels, beteken dat die GSPCR-reeks by uitstek geskik is om nuwe lande te vestig en om grond beter te draai en is veral gewild in suikerriettoepassings. “Die Baldan-disse is eenvoudige, doeltreffende masjiene met twee verstellings wat gemaak moet word voor die dis begin werk. Die produsent hoef net die voor- en agtertilt van die implement te verstel sodat die dis reguit agter die trekker beweeg, asook die skywe (‘gangs’) se verstelling om die aggressiwiteit van die skottels se snywerk te bepaal.” Nuwe produkte ook nou beskikbaar ’n Goeie byvoeging tot die Baldan-disreeks is die TACR 16-skottelkontoermaker met 26 duim skottels, toegerus met Baldan-oliebadlaers of -ghrieslaers vir ’n langer werksleeftyd met minder onderhoud. Laastens bied Baldan, deur NMI , die Baldan PSH-grondboor om hoekpale te plant, of strukture te help oprig. Die grondboor word standaard met ’n 9, 12, en 18 duim boor toegerus. “Omdat Baldan al so lank in die land beskikbaar is, is onderdele soos laers en skottels alles geredelik beskikbaar. Dit maak van die Baldan ’n implement wat nie net duursaam en betroubaar is nie, maar die produsent het die gemoedsrus dat onderdele op die implement daar sal wees wanneer hy dit nodig kry,” sê André.
Made with FlippingBook
RkJQdWJsaXNoZXIy MTY4NjQ=