WINTER BONUS MAGAZINE 2026

Deeglike toediening Swak toediening is in baie gevalle die oorsaak van ‘n afname in beheer. Onvoldoende bedekking weens spuite wat nie reg gekalibreer is nie, gebrekkige snoeipraktyke en verkeerde dosisse is alles bydraend tot swak toediening. Tydsberekening van toedienings is net so belangrik, maak dus seker die regte lewenstadium van die insek word geteiken. Reën of oorhoofse besproeiing té gou ná toediening kan ook beheer negatief beïnvloed. Herhaaldelike swak toedienings is een van die grootste redes vir ‘n verskuiwing in sensitiwiteit en gevolglik weerstand. Tenkmengsels Tenkmengsels word gereeld gebruik om verskillende plae met ‘n enkele bespuiting te beheer. In sommige gevalle kan tenkmengsels egter een of meer van die produkte se werking in so mate beïnvloed dat dit swak beheer tot gevolg het. Wees dus bewus van beperkings wat op produketikette aangedui word rakende die mengbaarheid en verenigbaarheid met ander produkte. Wanneer produsente sukkel om beheer te kry met ‘n insekdoder, kombineer hulle dit dikwels ook met ‘n ander produk om effektiwiteit te verbeter. Dit is egter nie altyd ‘n goeie strategie nie. Indien die ander produk op sy eie baie effektief is, stel dit die ontwikkeling van weerstand uit, maar spreek nie die probleem aan nie. Indien die ander produk swak beheer op sy eie verskaf, kan dit selfs gouer weerstand tot gevolg hê. Monitering en ekonomiese drempelwaardes Deeglike en gereelde monitering van insekplae is belangrik om te verseker dat insekdoders betyds, maar nie onnodig toegedien word nie. Dit is ook noodsaaklik om voordelige insekpopulasies dop te hou en seker te maak dat die insekdoders wat gebruik word, nie nadelig is vir hulle nie. Die beskerming van natuurlike roof-en parasitiese insekte en -myte kan ‘n groot rol speel in die suksesvolle beheer van ‘n plaag. Vir sommige insekplae bestaan daar ekonomiese drempelwaardes wat produsente kan help om te besluit op watter stadium om beheer toe te pas. Sommige chemiese insekdoders word egter aanbeveel om slegs te gebruik wanneer die populasiedruk nog baie laag is. Wees dus bewus van sulke beperkings op ‘n produk se etiket en moenie té lank wag voor toediening nie. Geïntegreerde plaagbeheer ‘n Geïntegreerde benadering behels die gebruik van chemiese insekdoders, biologiese beheermaatreëls, sowel as kulturele plaagbeheer. Dit is veral die laasgenoemde waarvan die waarde dikwels onderskat word. Dit sluit tegnieke in soos wisselbou, verwydering van gewasafval en -reste, die plant van variëteite wat minder vatbaar is vir plae, asook die plant van geneties gemanipuleerde gewasse. Waterkwaliteit Waterkwaliteit is krities belangrik en word dikwels nie in ag geneem nie. Opgeloste soute in die spuitwater, veral Ca2+- en Mg2+-ione, bind aan sekere plaagdodermolekules wat swak beheer tot gevolg het. HCO3- is net so belangrik en is dikwels verantwoordelik vir ‘n verhoging in pH, nog ‘n faktor wat insekdodereffektiwiteit negatief kan beïnvloed. Na+, Fe2+, Fe3+, Mn2+ en selfs Cl- en SO 2- is minder gereeld ‘n probleem, maar kan steeds ‘n effek op sekere plaagdoders hê. Die gebruik van byvoegmiddels wat soute bind en die pH regstel, word sterk aanbeveel. Slotgedagte Weerstand teen plaagdoders is ‘n wesenlike bedreiging vir produsente se volgehoue bestaan en vir voedselsekuriteit in ons land. Daar rus ‘n groot verantwoordelikheid op alle rolspelers in landbou se skouers, om verantwoordelik op te tree met plaagdoders. Verantwoordelik, nie net in terme van veiligheid vir mense en die omgewing nie, maar ook in terme van die voorkoming van weerstand teen plaagdoders. www.agribonus.co.za Winter 2026 BONUS 97

RkJQdWJsaXNoZXIy MTY4NjQ=