WINTER BONUS MAGAZINE 2025

Doeltreffende grondbewerkingsopsies vir beter opbrengste Wanneer moderne boerderye gevorderde grondbewerkingsoplossings benodig, staan Case IH se reeks toerusting voor in die ry. Met ’n bewese reeks van grondbewerkingstoerusting wat oor dekades heen al hul staal in lande regoor die wêreld getoon het, beskik Case IH oor ’n implement vir elke grondbewerkingspraktyk. “Ons poog om aan alle produsente ’n oplossing te verskaf wat op sy plaas werk, wat doeltreffend is, en uiteindelik help om meer volhoubaar te boer,” sê André Olwagen, hoof van taktiese bemarking en produkportefeulje by Case IH en NMI. Met die Ecolo 2500-inlyn-skeurploeg, die Ecolo Tiger-skeurploeg, die TruTandem-dis, en die Early Riser-planter kan produsente weet dat hierdie implemente ontwerp is om grondstruktuur te verbeter, oesreste beter te hanteer, en daarna presiese saadplasing te verseker vir hoër opbrengste. Klop verdigtingmet die Ecolo 2500 “Verdigting beperk wortelontwikkeling van gewasse en waterpenetrasie in lande, maar die Ecolo 2500-inlyn-skeurploeg is ontwerp om dit doeltreffend aan te spreek,” sê André. Met robuuste tande wat tot op ’n diepte van 508 mm kan werk, breek die Ecolo 2500 harde lae oop, sonder om die bogrond onnodig te versteur. “Werkswydtes van tussen 3 m tot 5,5 m is beskikbaar, maar dit word ook bepaal deur die aantal tande, wat normaalweg vyf-, sewe-, of negetandkonfigurasies beloop en omdat die inlyn-skeurploegaksie minimale versteuring in die boonste grond veroorsaak, is dit ook ideaal vir minimum of strookbewerkingspraktyke. Die aksie help hier om vog en organiese materiaal in die bogrond te bewaar,” sê André. Residu en verdigting se tier Die Ecolo Tiger is ontwerp om swaardienswerk te verrig – wanneer grond diep bewerk moet word, terwyl groot hoeveelhede oesreste ingewerk moet word, is daar min implemente wat by hierdie skeurploeg kan kers vashou. “Die Ecolo Tiger is beskikbaar in modelle met werkswydtes van rondom 4 m tot 6,8 m, afhangende van spesifieke tandkonfigurasies en verskillende opsies. Die Ecolo Tiger bied aan produsente ’n oplossing wat betref ’n egaliger grondprofiel, beter wortelpenetrasie, en ’n vinniger afbreek van reste, wat alles tot voordeel van die grond se langtermyngesondheid en die volgende seisoen se opbrengs is,” sê André. Saadbedvoorbereiding so maklik soos een, twee, drie Die TruTandem-dis is bekend vir sy unieke tandemskyf-opstelling wat help om reste egalig te versprei. Die verstelbare hoekinstellings laat produsente toe om die aggressiwiteit van die sny aan te pas, sodat elke stuk grond deeglik voorberei kan word. “Die TruTandem is beskikbaar in ’n wye reeks werkswydtes, vanaf rondom 3,7 m tot amper 11,2 m, afhangende van die model en die spesifikasies wat op die implement aangebring word. Of dit nou ná mielies, sonneblomme, of ander gewasse is, die TruTandem help om verstoppings tydens plant te voorkom en verseker dat ’n konsekwente werkdiepte gehandhaaf word. Die fyn, egalige saadbed wat geskep word, gee elke plant die beste kans om vinnig en eweredig op te kom,” sê André. Die verskil wat planterpresisie maak Die bekroonde Case IH Early Riser-planter is ’n presisie-implement wat opkoms verbeter danksy die gepatenteerde en bekende Case IH-toetrapwieletjies. Met die Multi-Row Control (MRC)-stelsel kan elke ry-eenheid afsonderlik aangepas word, gebaseer op grondtoestande of die historiese data van die land. “Die Early Riser is beskikbaar in konfigurasies met werkswydtes wat wissel van sowat 3,6 m tot oor die 18 m, afhangend van die aantal rye, wat normaalweg vanaf ses tot 24 rye en selfs meer in spesiale toepassings kan wees. Hierdie vlak van beheer beteken dat plantdiepte, druk, en spasiëring perfek gekalibreer kan word om te verseker dat elke pit presies reg geplaas word. Die unieke ontwerp van die planter skep ook beter kontak tussen saad en grond en verminder grondverdigting rondom die saad, wat lei tot vinniger en meer egalige opkoms,” sê André. www.agribonus.co.za Winter 2025 BONUS 27

RkJQdWJsaXNoZXIy MTY4NjQ=