SPRING SUMMER BONUS MAGAZINE 2026
“Dit het ons in staat gestel om ons kunsmisrekening dramaties te verminder. Ons mikpunt is om die grond te verbeter, terwyl ons die meeste moontlike voer vir die skape produseer. Twee keer per jaar plant ons ’n voermengsel van rondom ses plantspesies wat dan met die mis bemes word.” ’n Ander belangrike praktyk, voeg Liza-mari by, is dat hulle elke jaar al die wol wat afgeskeer word, in die lande inwerk. “Baie mense lag vir ons, maar ons vind dat die wol ’n uitstekende bemesting is. Behalwe vir die merkbare verskil wat dit aan produksie en kwaliteit maak, is dit asof die grond se voghouvermoë drasties verbeter.” Hulle het die klein lappie grond in 23 kampe met permanente heinings en besproeiing verdeel, elke kamp met sy eie waterkrippe. Hulle volg dan ’n roterende drukbeweidingstelsel met hulle 300 stoetdiere om die weiding eweredig af te vreet, en dan kans te gee om te herstel voor dit weer bewei word. “’n Skaap het net ’n sekere hoeveelheid kos per dag nodig. So, ons stuur ons skape uit om op die meeste vir ’n uur op die groen weiding te wei, waarna hulle ingebring word na houkampe waar hulle ’n porsie konsentraatmengsel en ad lib tef kry.” Die tef produseer hulle self van ’n 9 ha- land wat hulle by die buurman huur. Die kragvoermengsel wissel na gelang van die aanwending, hetsy kruipvoer of vir droë, dragtige, of lakterende ooie. Die ramme kry ook hulle eie formulering. Hennie is baie gesteld op die raamgrootte van sy ooie. Hy glo in ’n mediumraamtipe wat uiters vrugbaar is. Dit beteken dat ’n ooi van 60 kg, wat twee lammers teen 30 kg speen, haar liggaamsmassa in lamgewig ewenaar, terwyl haar eie voerbehoefte aansienlik minder is as dié van ’n ooi van 80 kg of 100 kg. Mengsels vir die somer en die winter Hulle het ’n plantkombinasie wat afgewissel word vir die verbetering van die grond van die aangeplante weidings. Veral die wintermengsel is uitdagend omdat hulle swaar ryp in die winter kry. “In die winter sluit ek twee of drie verskillende tipes hawer in, tesame met twee of drie verskillende rogsoorte, en dan gewone Japanese radyse (Nooitgedacht-kultivar) en ’n sogenaamde ripperradys wat die grond deurlig. “Die somermengsel bestaan uit Babala, sorghum, ripperradyse en akkerbone, asook Nutrifeed. Dit is krities om die regte persentasie saad saam te meng.” Die gebruik van die wol as bemesting, voel Hennie, vereis ongelukkig dat hy moet ploeg om die wol onder die grond te kry. Omdat hy egter die kampe roteer waar die wol ingewerk word, word elke kamp slegs een keer in etlike jare omgeploeg. “Ek gebruik ’n tweeskaarploegie en ek ploeg diep – ten minste 300 mm. Die wol word dan met die hand uitgepluis en eweredig in die vore gegooi. Dan gooi ek die vore weer toe soos ek die volgende ry omploeg.” Afgesien van die 300 Hampshire-stoetdiere wat hulle het, wou elkeen van hulle twee kinders, Liam en Miané, hulle eie diere gehad het. Miané (8) boer nou met 25 boerbokke, en Liam (10) met 25 Damaras. “Ons vind dat beide die bokke en Damaras baie goeie skoonmakers is. Waar die skape nie die dik stamme van die Babala, sorghum, en akkerbone in die somermengsel wil vreet nie, is hulle baie gewillig om agter die skape aan te kom en daardie stammetjies kort af te vreet. Dit bring mee dat die blare dan weer van onder af uitgroei vir nog ’n rondte sagte weiding vir die skape.” www.agribonus.co.za 38 Spring/Summer 2026 BONUS
Made with FlippingBook
RkJQdWJsaXNoZXIy MTY4NjQ=